Economy => Business
Vanwyksdorp

Business

Kom Kyk Gerus!! 

Spekboom, worsies, broodbos, botterboom, papkuil, melkbos, lidjiestee - die ontbythoekie in 'n groentetuin, reg? Allermins! Slangkop, varkstert, olifantvoet, bobbejaanoor, haasstertjie, beestong, volstruisnek, muistepel, koggelmandervoet - liggaamsdele van diere, nie waar nie? Weer verkeerd!

Dan is daar nog ons diere se kos: haaskos, skilpadkos, volstruiskos en bokkos. Hierdie is die name van letterlik net 'n paar van die duisternis van plante in die Klein Karoo.Die Klein Karoo (van Montagu in die weste tot by Uniondale in die ooste en van die kruin van die Swartbergreeks in die noorde tot op die kruin van die Outeniekwa- en Langebergreeks in die suide), 'n halfwoestyngebied, is 'n oorgangsgebied tussen die westelike winterreëngebied en die oostelike somerreëngebied en kry dus beide winter- en somerreën.

In die gebied oorvleuel drie biome (plantegroeistreke) wat internasionale brandpunte van biodiversiteit is, nl. die Vetplantkaroo-, die Fynbos- en Subtropiese ruigtewoudbioom. 'n Brandpunt ("hotspot") is 'n area wat besonder ryk is aan biodiversiteit, in vergelyking met ander areas in dieselfde kategorie (aan die positiewe kant), maar wat tot 'n groot mate deur mense verniel is en steeds bedreig word (aan die negatiewe kant).Hier kom ook sommige van die Nama Karoo-bioom (Groot Karoo) se plante voor.

Die gevolg is 'n verstommende diversiteit van plante in die Klein Karoo (ongeveer 3200 spesies).'n Vraag wat baiemaal gevra word, is wanneer dit die beste tyd is om die Klein Karoo te besoek, bedoelende wanneer dit die beste tyd is om in die Klein Karoo te kom blomme kyk. Ons ou mensdom dink nou maar eenmaal dat as daar nie massas blomme of troppe groot diere te sien is nie, daar niks is in die veld nie.Iemand wat 'n ruk gelede Gamkaskloof (die drieletterplek waar dit nie veronderstel is om te sneeu nie) besoek het, sê vir my dat dit die mees "overrated" plek is wat hy nog besoek het!

Ek vra hom toe of hy darem opgelet het hoedat die plantegroei voortdurend verander vandat hy Oudtshoorn verlaat het tot in Gamkaskloof en of hy gesien het watter groot verskeidenheid plante op die roete aangetref word. Sy antwoord: "Ek ry nie soontoe om na plantjies te kyk nie!"Die beste tyd om die Klein Karoo se veld te besoek? Die kort antwoord is enige tyd. Jy moet besluit wat jy wil sien. Die tydperk waartydens die meeste plante blom, is vanaf Augustus tot Oktober / November, hoewel daar in 'n normale jaar feitlik heeljaar blomme is.

Party plantsoorte blom wanneer dit genoeg gereën het, ongeag die seisoen. Ander het weer min of meer 'n vaste blomtyd. Moet asseblief nie teen 120km/h op die R62 voortsnel en dan sê dat daar GEEN blomme is nie! Soms moet 'n mens maar rustig word en soos 'n kindjie kyk: handeviervoet en van naby. Knopies en toontjies laat hulle immers nie so maklik uitkyk nie!

Gaan gerus maar saam met iemand wat weet waar om te kyk en kan herken wat hy/sy sien.Soos ek reeds laat blyk het, is blomme natuurlik nie al wat interessant is aan die plante nie. Hoogsomer wanneer blomme normaalweg skaars is en die plante hoë temperature en droogte moet trotseer, sien 'n mens al die vindingryke oorlewingstrategieë van die plante in aksie. So word dit duidelik waarom hier so baie soorte vetplante is, waarom feitlik al die bossies klein blaartjies het en so kan ek aangaan.

Dan het ek nog nie eers begin vertel van die plante se arsenaal van 'wapens' wat hulle inspan teen diere wat hulle wil vreet of beskadig nie. Van die verdedigingsmeganismes is natuurlik so subtiel dat 'n mens mooi moet kyk en hard moet dink om te besef wat nou eintlik aan die gang is.Behalwe die plante en buiten mense en ander soogdiere is hier ook 'n groot verskeidenheid reptiele en ongewerweldes, trouens die Klein Karoo is ook 'n kernarea van diversiteit van reptiele en ongewerweldes.

Verder spog die Klein Karoo met meer as 250 voëlsoorte wat al hier aangeteken is - nie sleg vir 'n droë plek nie, of hoe? Om alles te kroon, sorg die wisselende landskappe vir 'n wonderlike natuurskoon en asembenemende uitsigte.Feëklokkies, bobbejaantjie, skaamtone, katjiedrieblaar, eendjie, gansies, waterglasie, pronkvygie, baardrosie, koesnaatjie - pragtige name, né? Mooi en gepas soos die name is, is dit egter nie naastenby so indrukwekkend soos die plante self nie. Kom kyk gerus!

Vanwyksdorp.com - The Big Heart of the Little Karoo, South Africa

© 2013 - 2016| VANWYKSDORP | GOURITZ - KANNALAND REGION | SOUTH AFRICA | www.vanwyksdorp.com

SITE DEVELOPMENT & CMS | GRAPHIC DESIGN : Skin the Cat Creative Lab